Die AfriForum Scottburgh-tak is sedert September verlede jaar in ʼn briefwisseling betrokke met die speaker van die Umdoni Munisipale Raad aangaande drie raadslede se onvolledige verklarings met betrekking tot hulle finansiële belange, wat teenstrydig is met die Wet op Munisipale Stelsels.
“Die spreker het in ʼn brief aan ons gedateer 8 Oktober 2011 bevestig dat hierdie breuk aangespreek sou word ingevolge skedule 1 van die gedragskode vir raadslede, Artikel 14. Dit is byna ʼn jaar later en die speaker het nog steeds niks daaraan gedoen nie,” het Chris Fourie, voorsitter van die AfriForum Scottburgh-tak, gesê.
Die speaker is ooglopend besig om die kwessie te ontwyk en AfriForum het nog ʼn brief aan die speaker gestuur waarin hy versoek word om redes te verstrek waarom hy nie ʼn ondersoek na die beweerde breuk gelas het nie en waarom daar nie teen hierdie drie raadslede opgetree is nie.
“Dit is nog ʼn duidelike voorbeeld van hoe die ANC sy eie mense beskerm. Dit is tyd dat korrupte beamptes en politici soos hierdie tot verantwoording geroep en vervang word met ander wat die gemeenskap se belange in plaas van hul eie op die hart dra,” het Fourie gesê.













