AfriForum het vandag ’n brief gerig aan meer as 1 500 Suid-Afrikaners, wat aangeteken het om by die veldtog teen plaasmoorde betrokke te raak, waarin hulle aangemoedig word om briewe aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa, en aan hom persoonlik gerig, te skryf om te versoek dat plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar word.
In AfriForum se brief verduidelik Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dat dié organisasie onder meer beplan om ’n nasionale dag van protes teen plaasmoorde, sowel as ’n nasionale veiligheidsberaad aan te bied, maar dat energie eers onder die publiek losgemaak moet word voordat hierdie nasionale projekte aangepak kan word.
Die publiek is aangemoedig om briewe aan die minister van polisie te rig waarin hulle motiveer waarom plaasmoorde na hul mening geprioritiseer moet word. Die briewe moet na AfriForum se kantoor gestuur word, sodat dit in ’n bundel verpak kan word en by die minister se kantoor ingehandig kan word, wanneer AfriForum hom later vanjaar gaan spreek. Die mense is ook aangemoedig om hul eie stories te vertel, veral as hulle op een of ander manier deur ’n plaasaanval geraak is.
Die briewe moet aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa, gerig word, maar kan op enige van die volgende maniere na AfriForum gestuur word wat dit aan die minister sal besorg:
· Dit kan per e-pos gestuur word na stopdiemoorde@afriforum.co.za;
· dit kan gefaks word na 012 664 1281; of
· dit kan gepos word na Posbus 17216, Lyttelton, 0140.
“Ons hoop om meer as ’n honderd briewe afkomstig van die publiek aan die minister te oorhandig,” het Roets gesê.













