Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het met die Emfuleni-munisipaliteit in Vanderbijlpark vergader oor die onwettige studentekommunes wat ʼn groot kopseer vir inwoners is.
Dít kom nadat AfriForum die munisipaliteit op terme geplaas en tien dae gegee het om met ʼn aksieplan vorendag te kom oor hoe die munisipaliteit dié probleem gaan takel.
Volgens Wynand Bezuidenhout, voorsitter van die AfriForum Vanderbijlpark-tak, was dit ʼn baie positiewe vergadering, maar hy meen AfriForum sal verder druk moet toepas om te verseker dat die munisipaliteit sy verantwoordelikheid nakom. Die munisipaliteit het erken dat die onwettige studentekommunes ʼn probleem is en dat optrede nodig is.
Die Emfuleni-munisipaliteit het AfriForum gevra om hom van ʼn lys te voorsien met al die huise wat nie aan die betrokke wetgewing en regulasies voldoen nie. Die munisipaliteit het aangedui dat hy in die volgende maand stappe sal begin neem teen die eienaars van die onwettige studentekommunes.
“AfriForum vergader weer einde September met die munisipaliteit om terugvoering te ontvang oor die vordering wat gemaak is om die probleem op te los. Indien geen vordering gemaak is nie, sal AfriForum nie huiwer om die hof te nader vir hulp nie,” het Bezuidenhout gesê.













