Boomplantweek vind vanjaar van 1–7 September 2012 plaas. Dit is heerlike lente, die winter is verby. Die burgerregte-organisasie AfriForum loods op Lentedag hierdie Saterdag sy 2012 Boomplantweek-program.
Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, is dié program iets waarby die hele land kan inskakel. “Bome is ʼn erfenis, hulle speel ʼn belangrike rol in die ekosisteem en verrig verskeie funksies waarsonder niemand op aarde kan oorleef nie. Hulle dien ondermeer as ʼn suurstof-, skadu- en voedselbron.”
AfriForum se Boomplantweek 2012-program word deur 87 AfriForum-takke dwarsoor die land aan die publiek bekendgestel.
“Suid-Afrika is die mooiste land ter wêreld met die rykste biodiversiteit. As Suid-Afrikaners is dit ons verantwoordelikheid om hande te vat en die skepping te bewaar. Die natuur raak almal en sonder ʼn gesonde omgewing kan niemand oorleef nie. Ons moet verseker dat ons ons natuurlike hulpbronne bewaar en volhoubaar bestuur,” sê Kleynhans.
Die program sluit die volgende in:
· 1 September 2012: Nasionale Boomplantdag
· 2 September 2012: Bome in die Bybel
· 3 September 2012: Die belangrikheid van bome
· 4 September 2012: Hoe om ʼn boom te plant
· 5 September 2012: Die impak van indringerspesies
· 6 September 2012: ʼn Groen toekoms
· 7 September 2012: Herwinning en bome
Die program is gratis op AfriForum se omgewingsake-webblad, www.groenforum.co.za, beskikbaar. AfriForum moedig skole, kerke, lede en die algemene publiek aan om hierdie dokument af te laai.
“AfriForum is vanjaar deur sy takke by verskeie skole en kerke regoor die land betrokke. Hy betrek en mobiliseer gemeenskappe om verskeie Boomplantweek-aksies uit te voer en om bewaring en bewusmaking aan alle Suid Afrikaners bekend te stel,” sê Kleynhans.
AfriForum daag die gemeenskap uit om aan Boomplantweek deel te neem, die program te versprei en ʼn boomryke toekoms te verseker.













