2012 08 31 – AfriForum vergader met munisipaliteit om onder meer hofsake teen die munisipaliteit te probeer bylê

100_0212

Die burgerregte-organisasie, AfriForum het, nadat beswaarde belastingbetalers vir ʼn geruime tyd nie daarin kon slaag om in gesprek met die bestuur van die Mosselbaai-munisipaliteit te tree nie, wel daarin geslaag. Die burgemeester, raadsdame Marie Ferreira, raadsheer Emile Scheepers, wat as voorsitter opgetree het, en die munisipale bestuurder, Dr. Michele Grätz, asook verskeie departementshoofde het die vergadering bygewoon.

AfriForum het gastehuise, prinsipale van eiendomsagentskappe, klein besighede en gemeenskapsleiers verteenwoordig. Pieter Rautenbach, AfriForum se hoof van plaaslike regeringsake het as segsman opgetree.

AfriForum het sy kommer uitgespreek oor onwettige plakkery deur veral buitelanders op private en munisipale grond en die feit dat die polisie nie die onwettige plakkers vir betreding in hegtenis wil neem nie. Rautenbach het dit as ʼn mistasting beskou en is van mening dat dit daartoe aanleiding gee dat grond oornag beset word. AfriForum sal die polisie se onvermoë of onwilligheid om volgens die Wet op Betreding op te tree met verteenwoordigers van die plaaslike polisie opneem.

Gastehuise se dispuut oor belasting en tariewe en hangende hofsake is ook op die vergadering bespreek. Daar is ooreengekom dat ʼn gespreksforum gevorm sal word wat sal poog om die dispuut buite die hof te skik.

Raadsdame Ferreira het die versekering gegee dat die omstrede advertensiebeleid vir besighede hersien gaan word en dat die publiek genooi sal word om insette te lewer. Nuwe elektrisiteitstariewe sou veral besighede swaar tref, maar raadsheer Scheepers het die afvaardiging verseker dat die munisipale raad nie saamstem met NERSA se bloktariewe waarvolgens verbruikers meer per eenheid betaal wanneer meer krag verbruik word nie.  Die raad het hierdie tariefheffings geskrap.

Dick Naidoo het die goeie nuus meegedeel dat dele van Louis Fourie-weg binnekort opgegradeer gaan word. Schalk van Vuuren is genooi om verdere gesprekke met mnr. Herman Botha te voer oor die Hartenbos Vakansiedorp se huiseienaarsvereniging se probleem rondom belastings in Hartenbos, Boggombaai en Vleesbaai.

Die afvaardigings het saamgestem dat die batho pele-beginsel (die mense eerste) altyd deur die munisipale amptenare én die publiek as riglyne gebruik moet word tydens kommunikasie. Die kommunikasiekundige, Prof. Hendrik Gous, wat deel van die AfriForum-Mosselbaai-afvaardiging was, het ’n uitnodiging van raadsheer Scheepers aanvaar om met hom in gesprek te tree oor die verbetering van kommunikasie.

AfriForum spreek sy vertroue uit dat hierdie ontmoeting die begin sal wees van ʼn vennootskap met die munisipale bestuur om uitdagings deur gesprekke buite die howe op te los. ’n Onvermydelike gevolg van hofsake is dat belastingbetalers die regskoste van albei partye in ʼn geskil moet dra, ongeag die uitkoms.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit