2012 08 28 – Rioolstorting in Sekhukhune-munisipaliteit hou gesondheidsgevare in – AfriForum

Marble Hall 2012 08

Die gemeenskap van Marble Hall het vandag ’n brief aan die munisipale bestuurder van die Sekhukhune-munisipaliteit oorhandig waarin geëis word dat die munisipaliteit alle rioolstortingsprobleme oplos om só die gesondheidsgevare wat dit inhou, te bekamp.

Volgens Jannie Terblanche, voorsitter van AfriForum se Marble Hall-tak, word rioolprobleme al ’n geruime tyd ondervind, wat besorgdheid oor die gemeenskap se gesondheid laat ontstaan. “Die gemeenskap se gesondheid word op die spel geplaas omdat die munisipaliteit nie ’n doeltreffende diens kan lewer nie en nalaat om proaktiewe bestuur toe te pas. Ons is uiters besorg oor die rou riool wat in natuurlike waterbronne beland,” het Terblanche gesê.

“’Die onuithoudbare stank van rou riool hang in die lug en hou inwoners saans uit die slaap. Verwerkte riool is nie veronderstel om so ’n reuk te hê nie,” het Terblanche bygevoeg.

AfriForum dring daarop aan dat die munisipaliteit voor Woensdag, 5 September met ’n aksieplan vorendag kom waarin uiteengesit word watter stappe geneem sal word om die probleem op te los en waarin die munisipaliteit hom verbind tot sperdatums vir sodanige stappe.  “As die plan nie volledig is nie, sal verdere stappe teen die munisipaliteit geneem word,” het Terblanche gesê.

“Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie na behore aandag gee aan die ontwikkeling van infrastruktuur nie, wat op sy beurt die vraag laat ontstaan of tenders vir opgraderingswerk  toegeken word aan konsultante en kontrakteurs wat inderdaad opgewasse is vir die taak”, het Terblanche gesê.

AfriForum sal die aangeleentheid bly monitor.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit