AfriForum gaan môre saam met ʼn aantal van die land se bekendste kunstenaars in Pretoria ʼn dosyn projekte teen plaasmoorde aankondig. Steve Hofmeyr, Chris Chameleon, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Kurt Darren, Pieter Koen, Adam Tas en Gerrie Pretorius is van die kunstenaars wat hierdie geleentheid saam met verskeie meningsvormers uit die burgerlike samelewing gaan bywoon.
Die veldtog is daarop gerig om die regering so ver te kry om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar en die ondersoeke daarvan as prioriteit te hanteer asook om spesialiseenhede vir landelike veiligheid in te stel. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat hierdie projekte in plaaslike gemeenskappe, sowel as op nasionale en internasionale vlak, uitgevoer sal word.
Die dokumentêre film, War of the Flea, sal by die geleentheid vertoon word. Die film is deur Rian van der Walt vervaardig en ondersoek moontlike oorsake van en oplossings vir plaasaanvalle. Die kunstenaars sal ook ʼn belangrike rol tydens die verrigtinge vervul deur hul mening te lig en hul steun aan AfriForum se eise aan die regering op skrif te verklaar.













