Leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het die naweek van 18 en 19 Augustus 2012 ’n skokkende besluit in Maputo, Mosambiek, geneem om burgers van SAOG-lande van hul reg te ontneem om menseregtevergrype voor die SAOG-tribunaal te bereg.
Die boodskap wat deur SAOG-leiers die wêreld ingestuur is, is dat SAOG-lande die menseregte-horlosie in Suider-Afrika met drie dekades wil terugdraai en vryhede wat met moeite, arbeid en selfs bloedvergieting verwerf is, nou met ’n politieke besluit ongedaan gemaak word.
AfriForum het as deel van sy program om burgerregte en regsoewereiniteit te beskerm, ’n aksieplan van stapel gestuur om hierdie kommerwekkende verwikkeling teen te werk.
Die vyfpunt-aksieplan behels ’n veldtog wat op verskeie terreine verder gevoer word en behels:
1. Uitvoering van SAOG-beslissings in Suid-Afrika;
2. ’n Beroep op die Afrika-kommissie en Afrika-hof om teen SAOG-leiers op te tree;
3. Volgehoue druk op die Suid-Afrikaanse regering om sy burgers in buurlande soos Zimbabwe te beskerm;
4. Klagtes by regulerende owerhede teen maatskappye wat menseregtevergrype finansier; en
5. Regsaksie by die International Criminal Court.
Die stryd om menswaardigheid en regverdigheid is ’n lang uitgerekte stryd. AfriForum sal die stryd voortsit totdat hy slaag.













