2012 08 23 – Gemeenskap is nie spesiaal, sê Tokologo-munisipaliteit

Tokologo-munisipaliteit se kantore

AfriForum se drie takke in die Vrystaat, naamlik Boshof, Dealesville en Hertzogville, het gister met die Tokologo-munisipaliteit vergader oor diensleweringsprobleme. Met die groep se aankoms by die munisipaliteit se kantore het hulle ʼn bejaarde dame gesien wat besig was om water uit ʼn kraan voor die munisipaliteit te tap, wat sy dan met ʼn kruiwa huis toe gestoot het (sien foto aangeheg). Dit is juis probleme van ongereelde watervoorsiening en die totale gebrek aan water in sommige gebiede wat AfriForum wil aanspreek en waarvoor ons antwoorde soek.

Die vergadering het met ʼn aanvallende toon afgeskop vanaf albei partye, aangesien AfriForum beswaar gemaak het dat adv. LMA Mofokeng, die munisipale bestuurder, 40 minute laat was en dadelik op die aanval was deur te sê: “AfriForum is not special, why must I have an excuse to be late?” Die munisipaliteit het ook gesê dat hulle wil hê dat alle belangegroepe moet saamsmelt om vergaderings tot ʼn minimum te hou. Hoewel ʼn agenda vyf dae voor die vergadering aan die munisipaliteit gestuur is, het Mofokeng beweer dat hulle nie die agenda ontvang het om vir die vergadering voor te berei nie. Die eerste item op die agenda was onprofessionaliteit en swak kommunikasie binne die munisipaliteit. Marinda de Jager, voorsitter van die AfriForum Hertzogville-tak, het gesê dat dit duidelik is dat die senior amptenare onbewus is dat hulle totaal misluk in die pligte wat van hulle verwag word.

AfriForum vergader met munisipaliteite om kundigheid te deel en oplossings vir probleme te kry en sodoende kommunikasiegapings tussen die gemeenskap en die owerhede te vul. “Na afloop van die vergadering met die munisipaliteit en die gesindheid van senior amptenare, is ek nie verbaas oor die swak toestand van dié drie dorpe se infrastruktuur en hul versuiming om basiese dienste te lewer nie,” het Wesley Martin, AfriForum se organiseerder, gesê.

Die vergadering het egter op ʼn meer positiewe noot geëindig toe die munisipaliteit hulle verbind het tot sperdatums waarteen talle van die probleme opgelos moet word.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit