Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan vanaand tydens ’n funksie in Bloemfontein aksie-stappe in sy veldtog vir die beskerming van menseregte en respek vir die reg in Suider-Afrika bekendmaak.
Dit volg nadat die leiersberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) verlede week besluit het om die magte van die SAOG-tribunaal aansienlik in te kort en die beregting van menseregtekwessies uit te sluit van die mandaat van die hof.
Justisie-ministers van lande in die Suider-Afrikaanse streek het pas wysigings voorgestel aan die protokol wat die funksies van die tribunaal uitstippel en spesifiek die beregting van menseregtekwessies uit die bevoegdhede van die hof verwyder. Die SAOG-tribunaal sal dus voortaan slegs die bevoegdheid hê om dispute tussen state in die SAOG-streek te besleg.
Die SAOG-tribunaal het in November 2008 internasionale opslae gemaak toe die hof bevind het dat Zimbabwe se grondgryp-program rassisties en onwettig is. Kort daarna het die hof ook ten gunste van Luke Tembani, ’n swart kommersiële boer wat van sy grond verjaag is, beslis.
AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, het verklaar dat dit tragies is dat die leiers van SAOG-lande hulle deur die korrupte bewind van Zimbabwe aan die neus laat lei en ingestem het om die SAOG-tribunaal se magte te beperk. Die boodskap wat daardeur uitgestuur word, is dat Suider-Afrikaanse regerings onverskillig staan teenoor die menseregtevergrype wat deur hulle strydgenote uit die struggle-jare gepleeg word.
“Waar ’n menseregtehof teen ’n regering beslis, word die hof se magte summier ingeperk,” het Spies gesê.













