Die burgerregte-organisasie AfriForum het in ʼn brief die Emufeni-munisipaliteit op terme geplaas omdat die munisipaliteit versuim om hulle pligte teenoor die gemeenskap in Vanderbijlpark na te kom.
AfriForum het verskeie klagtes van die gemeenskap ontvang oor talle onwettige studente-kommunes wat in dié omgewing kop uitsteek. Die onwettige studentehuise voldoen nie aan bouregulasies nie en is oorbevolk, wat veroorsaak dat die rioolstelsel nie die las kan hanteer nie.
AfriForum het verder klagtes ontvang dat van dié studentehuise sjebeens en snoepwinkels bedryf wat ʼn groot geraas in ʼn voorheen rustige woonbuurt veroorsaak. Die toename in studentehuise en alles wat daarmee gepaardgaan lei daartoe dat die waarde van eiendom in dié gebied daal.
Volgens Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Gauteng, versuim die Emufeni-munisipaliteit om hul eie bywette toe te pas. “Dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om toe te sien dat huiseienaars aan die nodige vereistes en wetgewing voldoen.”
Esterhuizen vertel dat AfriForum vir die munisipaliteit ʼn sperdatum gegee het om op inwoners se klagtes te reageer en ʼn volledige aksieplan voor te lê om die probleem aan te spreek. “Indien die munisipaliteit nié voor die sperdatum aan die eise voldoen nie, sal AfriForum stappe teen die munisipaliteit neem,” sê Esterhuizen.
Die studente studeer almal by die Vaal Universiteit van Tegnologie.













