AfriForum Jeug het onlangs ʼn klagte by die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit van ingenieurswese ingedien aangaande klasse wat nie in Afrikaans aangebied word soos in die voorgeskrewe taalspesifikasies in die jaarboek aangedui word nie. Daarbenewens is ʼn beroep op alle dosente in dié fakulteit gedoen om gehoor te gee aan Afrikaanse studente en nie hulle pleidooie verder te ignoreer nie.
“AfriForum Jeug kry gereeld klagtes van studente dat daar ten koste van Afrikaans van die onderigtaal afgewyk word. Die US moet erken dat hulle ʼn verantwoordelikheid teenoor dié studente het,” sê Conrad Basson, voorsitter van AfriForum Jeug se Maties-tak.
Die meerderheid klagtes wat tot dusver onder AfriForum Jeug Maties se aandag gebring is, handel oor die fakulteit van ingenieurswese. AfriForum Jeug is tans besig om ʼn taalverslag saam te stel wat sal aandui watter modules by die US nie aan die universiteit se taalbelofte voldoen nie.
“Afrikaanse studente voel dat hulle nie geakkommodeer word in sommige A- en T-opsie klasse nie. Die klasse word dikwels in slegs Engels aangebied en studiemateriaal is ook nie in Afrikaans beskikbaar nie. Studente meen hulle word van die voordele van moedertaalonderrig beroof,” voeg Basson by.
Die A-opsie verwys na klasse wat parallel tot Engels in Afrikaans aangebied word terwyl die T-opsie na ‘n dubbelmedium taalspesifikasie verwys waar Afrikaans en Engels in dieselfde klaskamer op ‘n 50/50 basis in een lesing gebruik word. In dubbelmedium moet alle studiemateriaal ook in beide tale beskikbaar gestel word.
AfriForum Jeug gaan voortaan met ander studente-organisasies wat ook sterk oor Afrikaans voel saamwerk om Afrikaans by dié universiteit te bevorder. Die taalkwessie aan die US sal voortaan AfriForum Jeug Maties se primêre fokus vir 2013 wees.













