[Foto: www.cedarberg.co.za]
Die burgerregte-organisasie, AfriForum, kon ná verskeie briewe en telefoonoproepe in weke nie daarin slaag om ʼn afspraak op ʼn geskikte tyd met die burgemeester van Cederberg, Jonas White, te bekom nie. Dit volg nadat AfriForum White se kantoor besoek het, maar hy te besig was om sy verjaardag te vier om ʼn paar minute aan AfriForum af te staan.
Ingevolge wetgewing is ʼn munisipaliteit verplig om met belanghebbende groepe in ʼn gemeenskap in gesprek te tree. AfriForum het ʼn wenslys opgestel waarin indringende vrae oor die administrasie, dienslewering en beweerde verspilde en wanaangewende fondse van die munisipaliteit gestel word.
AfriForum het bewyse ontvang van beweerde wanaanwending van fondse en verspilde uitgawes wat op misdrywe kan neerkom. Enkele van die ondersoeke wat aangevra word, is:
· Ian Kenned is as munisipale bestuurder van Cederberg-munisipaliteit aangestel nadat hy onder ʼn wolk weg is by Oudtshoorn en Stellenbosch ná beweerde ongerymdhede. Die vraag word gestel of dit ʼn geval van kaderontplooiing deur die ANC is?
· Beide Oudtshoorn en Stellenbosch se munisipaliteite sal ook aan die publiek moet verduidelik waarom geen dissiplinêre en/of strafregtelike stappe teen Kenned gedoen is nie.
· White het die Fillipyne besoek, na bewering om ʼn “pediater te werf” en het daarna die belastingbetaler ʼn verdere R28 468 uit die sak gejaag om sy vlugplan te wysig om vroeër na Suid-Afrika terug te keer.
· Die bedrag van nagenoeg R300 000 is aan ʼn verskaffer betaal sonder dat behoorlik tenders van leweransiers ingewag is, soos wat die regulasies van die Nasionale Tesourie bepaal.
AfriForum het die adjunkkommissaris van die provinsiale SAPD-kantoor, generaal-majoor S.J. Jephta, oor die saak genader. Sy het aanbeveel het dat ‘n saak by die plaaslike polisiestasie geopen word.
Die SAPD word versoek om meer as 15 klagtes teen onder andere die burgemeester en die munisipale bestuurder te ondersoek. AfriForum het ook sy takke versoek om die redes vir Kenned se vreemde diensbeëindigings by verskeie munisipaliteite vas te stel.
AfriForum stem saam met Pravin Gordan dat die wanaanwending en verspilling van die publiek se belastinggeld geensins verdra moet word nie. AfriForum sal voortgaan om die wanbesteding van openbare geld te ondersoek en daadwerklik op te tree teen enige wanpraktyke wat moontlik op vermorsing van sodanige gelde dui.













