Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het vandeesweek ’n brief aan die munisipale bestuurder van die Oudtshoorn-munisipaliteit gerig waarin die munisipaliteit gevra word om op te tree teen onwettige industriële bedrywighede wat in ’n woongebied in Oudtshoorn plaasvind.
Volgens George Kersop, voorsitter van die AfriForum Oudtshoorn-tak, het die munisipaliteit in gebreke gebly om teen die onwettige bedrywighede op te tree. “Die munisipaliteit het Transnet, die vermeende eienaar van die eiendom, in Desember 2011 per brief versoek om die onwettige bedrywighede op die eiendom stop te sit. Dit is nou Augustus 2012 en nog niks is gedoen nie,” sê Kersop.
"Die saagmeule bied ʼn gesondheidsbedreiging vir die residensiële gemeenskap weens die stof en geraasbesoedeling wat veroorsaak word deur sy bedrywighede, het gesê Kersop.
In die brief aan Transnet noem die dorp se stadsbeplanningafdeling dat hy verskeie klagtes vanuit die gemeenskap oor ’n saagmeule wat op die ou spoorwegperseel bedryf word, ontvang het. Die brief noem verder dat die stadsbeplanner die bedrywighede as onwettig verklaar het en gelas het dat alle saagmeulebedrywighede op Erf 12874 gestaak moet word.
“Die industriële bedrywighede vind steeds plaas. Ons dring daarom aan dat stappe geneem word,” volgens Kersop.
AfriForum het die munisipaliteit tot Woensdag, 22 Augustus gegee om teen die onwettige bedrywighede op te tree en die wet toe te pas. “Die munisipaliteit is daarvoor verantwoordelik om die betrokke wetgewing toe te pas en te verseker dat die onwettige bedrywighede gestaak word. Indien die munisipaliteit nie optree nie, sal hy effektief onwettige bedrywighede ondersteun,” sê Kersop.
AfriForum sal voortgaan om die situasie te monitor om te verseker dat die verantwoordelike persone aan die relevante beleide en wetgewing voldoen.













