2012 08 16 – AfriForum skryf aan 100 ambassades en internasionale organisasies oor plaasaanvalle

Mielies

 

AfriForum gaan ʼn memorandum aan 100 lande en internasionale organisasies rig om die realiteit van plaasmoorde onder hul aandag te bring. Hierdie stap volg in reaksie op die drie plaasaanvalle wat die afgelope paar dae plaasgevind het waarin ʼn Amerikaanse boer onder meer ook ’n slagoffer geword het, wat meer internasionale prominensie aan plaasmoorde verleen.

AfriForum het aan sy navorsingspan opdrag gegee om 100 lande en internasionale organisasies as geskikte ontvangers van die memorandum te identifiseer. Die kriteria wat vir die opstel van hierdie lys gebruik is, is die volgende:

1. Lande en organisasies wat waarskynlik nog nie bewus is van die probleem nie;

2. Lande en organisasies wat diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering kan plaas om daadwerklik op te tree oor plaasmoorde.

AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, Ernst Roets, het gesê dat die regering oneerlik met sy burgers is. “Die kommando’s is in 2003 ontbind met ʼn belofte dat alternatiewe strukture vir landelike veiligheid op die been gebring sou word. Dit het nie gebeur nie. Die regering weier om plaasmoorde in besonder tot prioriteitsmisdaad te verklaar omdat dit volgens hom bloot as deel van die breër moordkategorie beskou moet word, terwyl diefstal van koperkabels, stropery van renosters, geweld teen vroue en kinders en transitorooftogte reeds sonder veel moeite deur die regering geprioritiseer is.”

Roets het bygevoeg dat die regering die verantwoordelikheid vir hierdie aanvalle moet aanvaar solank as wat die belofte wat in 2003 met die afskaffing van die kommando’s gemaak is, naamlik dat alternatiewe strukture vir landelike veiligheid geskep sal word, nie nagekom word nie.

Op Dinsdag, 28 Augustus sal AfriForum ook in Pretoria ʼn omvattende Stop die Moorde-veldtog aankondig. Meer inligting hieroor sal binnekort aangekondig word.

Die slagoffers van die jongste drie plaasaanvalle is:

· Allen Rodgers (61), ʼn plaasbestuurder en Amerikaanse burger. Hy is op 13 Augustus op ʼn plaas naby Bloemfontein met kapmesse aangeval. Hy het verskeie snye en kapwonde opgedoen. Die aanvallers het ook sy vriendin vasgebind en aangerand.

· Ronel van Eyk (46). Sy is op 13 Augustus by die hek van haar plaas naby Hartbeesfontein vermoor nadat sy haar negejarige seun, Freddie, by die skool afgelaai het. Sy is herhaaldelik geskiet, onder meer in die gesig.

· Owen Charles (70) is op 12 Augustus op ʼn plaas naby Jansenville vermoor. Sy vrou, Janet (70), is ook met messe en stomp voorwerpe aangeval en is in ʼn ernstige toestand. Die aanval het op haar verjaarsdag plaasgevind.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit