2012 08 16 – AfriForum-aansoek verseker Ermelo van krag

DCF 1.0

AfriForum het vandag in Pretoria ’n dringende hofinterdik verkry wat die Msukaligwa-Munisipaliteit verbied om die Ermelo-gemeenskap se krag af te skakel.

Die Ermelo Sakekamer het AfriForum genader om hulp nadat die munisipaliteit nuwe kragmeters geïnstalleer het wat foutiewe, buitensporige lesings gegee het.  Die Ermelo Sakekamer bestaan uit bykans 180 lede, wat restaurante, skole en plaaslike besighede insluit.

Volgens Werner Human, verbonde aan die firma Hurter Spies Ing. (wat as regsverteenwoordigers van AfriForum optree) het lede van die sakekamer, waaronder skole en plaaslike besighede, ’n kennisgewing ontvang dat hul krag vandag (16 Augustus) afgesluit sou word. “In weerwil van die talle dispute wat die munisipaliteit ontvang het, het hy steeds verkies om die krag af te skakel, eerder as om die gemeenskap se dispute op te los,” het Human gesê. “Dit beteken dat die munisipaliteit eerder verkies dat leerders by skole sonder krag sit as wat hulle iets omtrent die dispute doen,” het Human bygevoeg.

“Die Msukaligwa-munisipaliteit het veel meer uitdagings as die huidige elektrisiteitskrisis wat die hoof gebied moet word. Dit is juis vanweë hierdie tipe uitdagings in plaaslike regering en die feit dat ’n wakende oog oor onder meer plaaslike regeringsake gehou moet word dat AfriForum-takke in gemeenskappe gevestig word,” het AfriForum se Mpumalanga-woordvoerder, Ivan Herselman, bygevoeg.

Die hof het beslis dat die krag by Ermelo moet aanbly en dat die munisipaliteit die gegriefdes se besware binne twee weke met hulle moet bespreek. Voorts is bepaal dat totdat die dispuut besleg is, slegs 30% van die foutiewe rekeninge as eerste betaling betaalbaar is.

AfriForum verwelkom die uitslag.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit