2012 08 15 – Staptog teen misdaad; presidensie plaas onus op minister

STAP SAAM 3

Op 19 Junie vanjaar het 30 kunstenaars, waaronder Bobby en Karlien van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Emo Adams en Rozanne Mekenzi, saam met honderde ander Suid-Afrikaners na die Uniegebou gestap uit protes teen die hoë misdaadsyfer in die land. AfriForum het dié inisiatief ondersteun.

Tydens die betoging is ’n memorandum aan die presidensie oorhandig waarin geëis is dat daadwerklike stappe gedoen moet word om misdaad in Suid-Afrika hok te slaan. In reaksie hierop het president Jacob Zuma die staptoggangers bloot verwys na die minister van polisie, Nathi Mthethwa, en glad nie op die versoekskrif gereageer nie. 

Volgens AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Cornelius Jansen van Rensburg, is die president se reaksie ’n duidelike teken dat hy nie in voeling is met gewone Suid-Afrikaners nie. AfriForum het vanoggend, namens die kunstenaars, ’n formele vergadering met minister Mthethwa aangevra om die memorandum te bespreek.

“Ons is nie tevrede met die presidensie se antwoord nie. President Zuma bly die een wat uiteindelik verantwoordelik is vir ons veiligheid, en as dit beteken dat ons meer staptogte moet organiseer, sal ons dit doen,” het Jansen van Rensburg gesê.

Volgens Bobby van Jaarsveld, wat namens die betogers die memorandum oorhandig het, sal Suid-Afrikaners hul stemme harder moet laat hoor. “Suid-Afrikaners moet aanhou om druk op die regering te plaas totdat hulle gehoor gee aan ons eis om in ’n veilige land te leef,” het Van Jaarsveld gesê.

AfriForum kondig Dinsdag 28 Augustus ’n veldtog aan waarin die organisasie gewone Suid-Afrikaners gaan aanmoedig om betrokke te raak in hul gemeenskappe om sodoende misdaad te help bekamp. “Selfs al word betogings gehou om toe te sien dat landsburgers se regte beskerm word, moet mense steeds stappe neem om hul lewens teen misdadigers te beskerm,” volgens Van Jaarsveld. 

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit