Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het in Springs met die stadbestuurder, wat verantwoordelik is vir dié gemeenskap, vergader.
Volgens Gert Parsons, woordvoerder van die AfriForum Springs-tak, was die doel van die vergadering om van die gemeenskap se probleme met dié munisipaliteit te bespreek.
Van die probleme wat bespreek is, sluit onder meer die straatligte wat nie werk nie, rommel wat nie verwyder word nie, kontrakteurs wat deur die munisipaliteit aangestel word en nie behoorlike dienste lewer nie en die slegte toestand van Murray-park in.
Volgens Parsons word die gemeenskap van Springs toenemend onder druk geplaas as gevolg van die Ekurhuleni-munisipaliteit wat versuim om sy pligte teenoor getroue belastingbetalers na te kom. Die munisipale bestuurder het by die vergadering besluit om maandeliks met die AfriForum Springs-tak te vergader om gemeenskapsake te bespreek.
Die munisipaliteit het ook, nadat dié probleme onder hulle aandag gebring is, AfriForum verseker dat hulle die probleme sal aanspreek en terugvoering sal gee by die volgende vergadering.













