ʼn Vergadering waartydens ʼn AfriForum-tak vir die Langkloof-omgewing gestig gaan word, sal op Donderdag, 9 Augustus 2012 om 19:00 vir 19:30 in die buitelklubsaal in Joubertina plaasvind. Dié vergadering volg nadat nuwe takke reeds in die Koukamma en Kouga-distrikte gestig is en gemeenskappe besef het dat AfriForum groot suksesse landswyd behaal met die aanspreek van bedrog en korrupsie asook swak dienslewering. In Oudtshoorn het AfriForum ʼn sleutelrol vervul om bedrog en korrupsie te openbaar en die burgemeester vir diefstal en dwarsboming van die gereg te laat vervolg. AfriForum Jeffreysbaai het ʼn sleutelrol gespeel om te verhoed dat Fred Dennis as direkteur van finansies in die Matzikama-munisipaliteit op Vredendal aangestel is, nádat hy by die Kouga-munisipaliteit geskors is en ook nie die nodige kwalifikasies vir die pos gehad het nie.
Talle klagtes dat die Koukamma-munisipaliteit se kredietbeheermaatreëls in chaos sou ontaard en dat ingryping dringend benodig word, is vanaf belastingbetalers ontvang. Klagtes is ook ontvang dat die polisie in dié gebied selektief teen misdaad optree. AfriForum sal hulp aan dié gemeenskap verleen sodra ʼn tak suksesvol gestig is.
Pieter Rautenbach, AfriForum se hoof van plaaslike regeringsake, sal die vergadering op 9 Augustus 2012 toespreek.
Belangstellendes kan vir Rey Rademeyer skakel by 082 715 0806.













