2012 08 03 – AfriForum-veiligheidstruktuur trek vermeende plaasaanvaller vas

image

Een van AfriForum se plaaslike veiligheidstrukture het gisteraand ʼn vermeende plaasaanvaller in die Grootvlei-Oos area, noord van Pretoria vasgetrek.

Dit volg nadat een van die inwoners van die gemeenskap die voorsitter van die AfriForum-veiligheidstruktuur in kennis gestel het dat hul huisalarm afgegaan het. Die inwoner het gesê dat die aanvaller die eiendom se draadheinings geknip en die honde vergiftig het.

AfriForum was dadelik op die toneel en lede het die verdagte deur die veld sien hardloop. Volgens Johan Lucas, voorsitter van AfriForum se Grootvlei-Oos-tak, het die verdagte op hom geskiet toe hulle hom aankeer.

Die verdagte het aanvanklik weggekom, maar lede van die gemeenskap het hom later in die veld gevind waar hy weggekruip het. Die man het gesê dat hy in die bosse gelê en slaap het, maar sy skoenspore is positief vergelyk met dié wat by die geknipte heining gekry is. Daar is ook gif by hom gevind.

Volgens Lucas het die polisie laat op die toneel aangekom en hy het die inhegtenisneming van die verdagte toegeskryf aan die flink optrede van die plaaslike gemeenskapsveiligheidstruktuur.

AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Cornelius Jansen van Rensburg, sê die organisasie moedig sy lede en takstrukture aan om by gemeenskapsveiligheid-inisiatiewe betrokke te raak of sulke strukture te stig.

“In die mate wat gemeenskappe in veral landelike gebiede nie op die polisie kan staatmaak nie, moet ons onsself en ons gemeenskappe teen misdadigers beskerm,” het Jansen van Rensburg gesê.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit