2012 07 30 – AfriForum verwelkom Oudtshoorn-plaaslike munisipale raad se besluit om appèlaansoek onmiddellik te stop

image

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Maandag, 23 Julie 2012 ʼn dringende skrywe aan Gordon April, die burgemeester van Oudtshoorn, gerig waarin redes versoek is waarom hy sonder die plaaslike munisipale raad se goedkeuring besluit het om appèl aan te teken teen die beslissing van die Kaapse hoërhof dat die munisipale bestuurder, Thandekile Mnyimba, nie bevoeg is om dié pos te beklee nie. ʼn Antwoord is voor Vrydag, 27 Julie versoek. Hierdie bevel het gevolg ná ʼn hofaansoek deur Allen Paulse, wat ʼn kandidaat vir die pos van munisipale bestuurder was.

Pieter Rautenbach, AfriForum se hoof van plaaslike regeringsake, het dit duidelik aan April gestel dat ʼn burgemeester nie gedelegeerde bevoegdhede as ʼn magsinstrument mag gebruik nie en dat sy versuim om ʼn besluit van die raad te verkry onwettig en selfs ʼn misdryf ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet (Wet 56 van 2003) kan wees. Raadslede kan ook in hulle persoonlike hoedanigheid vir verkwiste uitgawes wat onwettig aangegaan is verantwoordelik gehou word ingevolge die gewysigde Munisipale Stelselswet (Wet 7 van 2011).

Die plaaslike raad het op Donderdag, 26 Julie besluit om die munisipale bestuurder af te dank en dat April in sy persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou sal word vir die kostes van die appèlsaak wat hy eiehandig gelê het. Intussen is die speaker, Johannes Stoffels, ook uit sy amp onthef omdat hy die appèl ondersteun het.

AfriForum wens alle partye, insluitend die Wes-Kaapse minister, Anton Bredell, die DA, die NPP en die twee ANC raadslede, geluk met die wyse waarop hulle saamgewerk het om hierdie suksesse te behaal. AfriForum sal die situasie fyn dophou om te sien of daar enige diskriminasie teen die twee ANC raadslede plaasvind. As dit die geval is, is AfriForum bereid om bystand verleen om hulle regte te beskerm.

Oudtshoorn neem die voortou nadat die minister van finansies, Pravin Gordhan, dit na die onlangse swak ouditeursverslag duidelik gemaak het dat daar ferm opgetree sal moet word teen munisipale amptenare en raadslede wat die publiek se fondse verkwis of wanbestee.

AfriForum oorweeg dit verder om strafregtelike klagte teen ‘n voormalige munisipale bestuurder te lê, nadat versuim is om finansiële state by die ouditeur-generaal in te handig.

AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe elders in die land doelgerig by te staan om ontslae te raak van korrupte en onbevoegde staatsamptenare.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit