2012 07 30 – AfriForum gee Thaba Chweu-munisipaliteit vyf dae

image

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die munisipale bestuurder van die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit in ’n brief gevra om ’n aksieplan te voorsien om die rioolprobleem in Lydenburg, Mpumalanga aan te pak.

Volgens Leon de Jager, voorsitter van AfriForum se tak op Lydenburg, is die munisipaliteit vyf dae gegee om met ’n werkbare aksieplan vorendag te kom om die dorp se rioolprobleem op te los. “Indien die munisipaliteit nie ’n aksieplan, wat tydsraamwerke insluit, verskaf ten einde die rioolkrisis, wat ’n gesondheidsgevaar inhou, aan te pak nie, sal AfriForum die nodige stappe neem om die situasie op te los,’ sê De Jager.

Rou riool vloei in die strate en in residensiële eiendomme en loop uit in die Dorpsrivier. “Inwoners se grondwetlike regte word geskend. Daarby is die besoedeling van die land se natuurlike hulpbronne ’n kriminele oortreding ingevolge die Nasionale Waterwet (Wet 106 van 1998),” volgens De Jager.

Volgens die gemeenskap is die storting van riool in die Dorpsrivier die gevolg van onvoldoende onderhoud van infrastruktuur en swak bestuur.

Nog ’n kwessie wat kommer wek, is dat gemeenskappe in die Lydenburg-area die rivier se water gebruik. “Water wat met riool besmet is, bevat E. coli en verskeie ander gevaarlike stowwe. Die munisipaliteit moet dié gemeenskappe waarsku en aan hulle skoon drinkwater verskaf,” voeg De Jager by.

AfriForum sal die situasie monitor.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit