Dit het onder die aandag van die AfriForum Frankfort-tak gekom dat ʼn maatskappy, Rural Maintenance (Edms) Bpk (Landelik), vermoedelik optree as ʼn agent van die Mafube-munisipaliteit. Tans tree die maatskappy na bewering as ʼn eksterne diensverskaffer wat elektrisiteit aan die Mafube-munispale gebied verskaf, op.
AfriForum Frankfort teen die munisipaliteit se beweerde wanpraktyk op die volgende gronde beswaar aanteken:
· Elektrisiteitverbruikers in die Mafube-gebied voel dat hulle uitgebuit word aangesien die prys van elektrisiteit drasties verhoog is sonder dat behoorlike kennis gegee is. Dit word beweer dat die betrokkenheid van Rural Maintenance as ʼn verspreidingsagent tot ʼn onbehoorlike styging in die prys van elektrisiteit gelei het.
· Die Mafube-gemeenskap is bewus van die onbeheerde en onwettige skuld wat die Mafube-munisipaliteit by Eskom aangegaan het. Verbruikers vermoed dus dat die beweerde onwettige aktiwiteit ʼn manier is om indirek fooie te hef vir elektrisiteit wat hulle reeds betaal het om die munisipaliteit se skuld by Eskom te delg.
· Na berig word druk op sommige verbruikers uitgeoefen om teen hulle sin hulle voorafbetaalde elektrisiteitsmetersisteem na die konvensionele sisteem om te skakel. Dit sal veroorsaak dat verbruikers minder beheer oor hulle elektrisiteitsverbruik het.
· Die hoë aansluitingskoste vir voornemende elektrisiteitsverbruikers, veral in die besigheidsektor, belemmer entrepreneurskap en ontwikkeling.
AfriForum is dus van mening dat die Mafube-munisipaliteit se beweerde vervreemding en/of erosie van sy regte en pligte as ʼn munisipale diensverskaffer nie met die beginsel van ordelike en wettige plaaslike bestuur versoenbaar is nie en strydig is met:
· Die Mafube-munisipaliteit se beleid oor verskafkettingbestuur;
· die tenderproses soos vermeld in die ouditeur-generaal se algemene verslag van 2011;
· die Wet op die Regulering van Elektrisiteit (Wet 4 van 2006);
· artikel 8 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000);
· artikel 90 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur (Wet 56 van 2003); en
· die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, veral artikel 153 en 160(7).
Die AfriForum Frankfort-tak het ʼn vergadering met die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika aangevra om die regmatigheid van die kontrak en die tariewe te bespreek. Die vergadering sal deur aksie opgevolg word as dit vasgestel word dat Rural Maintenance wette en regulasies oortree het.













