2012 07 25 – AfriForum Jeug oorweeg regstappe teen Dienste-seta nadat sertifikate reeds vir twee jaar sloer

image

AfriForum Jeug skakel sedert Maart vanjaar met die Dienste-seta (sektorale vaardigheidsontwikkelingsowerheid) se hoofkantoor oor studente wat al meer as twee jaar vir hul ambagsertifikate wag en oorweeg nou regstappe namens sowat 150 jongmense. AfriForum Jeug gaan ook ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting redes vir die vertraging in die uitreiking van sertifikate aanvra.

“Die Dienste-seta het keer op keer ons e-posse en telefoonoproepe geïgnoreer, waarna ons met die kantoor van die uitvoerende hoof geskakel het. Alhoewel Thandi Mkihize van die Seta aangedui het dat die sertifikate so gou moontlik uitgereik sal word, het Bibi Madiba namens Dr. Sinclair Moon se kantoor aangedui dat die probleem niks met hulle te doen het nie,” het Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

“Talle jongmense kan nie werk kry sonder hulle ambagsertifikate nie omdat hulle nie bewys kan lewer dat hulle opgelei is nie. Dit is ’n ernstige skending van hulle reg tot billike administrasie,” sê Cameron.

Cameron sê verder dat administratiewe wanbestuur by die Dienste-seta aan die orde van die dag is en dat die bevoegdheid van administratiewe beamptes betwyfel word. “Vakante poste is moontlik ’n verdere oorsaak vir die gebrekkige diens, maar meer duidelikheid sal verkry word deur ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting te rig,” sê Cameron.

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n land wat gebuk gaan onder werkloosheid en wat ’n groot tekort aan ambagsmanne het met administrasieprobleme sukkel.”

AfriForum Jeug sal in die komende week met sy regspan vergader om te besluit watter stappe geneem gaan word.

Die Dienste-seta is oorspronklik ingestel om vaardighede wat in die dienstesektor benodig word, te identifiseer en te bevorder. Die Seta is verantwoordelik om vaardighede beskikbaar te stel vir die dienstesektor om sodoende ’n balans tussen die vraag na en aanbod van vaardighede te skep.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit