2012 07 19 – AfriForum Jeug vertoon dokumentêr as deel van bewusmakingstoer oor plaasmoorde

AfriForum Jeug klein logo

AfriForum Jeug bied vandag ’n vertoning van War of the Flea, ’n dokumentêr wat handel oor landelike geweldsmisdaad in Suid-Afrika, by die Universiteit van die Vrystaat aan as deel van ’n bewusmakingsveldtog wat fokus op die effek van plaasmoorde op gemeenskappe en wat ’n bydrae wil lewer om veiligheids-strukture te verbeter.

Die eerste vertoning is reeds by die Universiteit van Pretoria aangebied en AfriForum Jeug beplan om op dieselfde wyse bewustheid by die Noordwes-universiteit en die Universiteit van Stellenbosch te kweek. Volgens Anne Calitz, takvoorsitter van AfriForum Jeug Kovsies, vorm dié bewusmakingstoer deel van die Solidariteit Beweging se verset-aksie teen plaasmoorde en die poging om plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar te kry en te verseker dat spesialiseenhede in landelike gebiede ingestel word.

“Studente begin vrae vra soos waarom plaasmoorde dikwels gepaardgaan met grusame geweld, wat die werklike toedrag van sake is met betrekking tot plaasmoorde in die land en wat hulle te doen staan om die situasie te beredder. Dit is daarom belangrik om jongmense se verset teen landelike geweld te kanaliseer na proaktiewe optrede deur deelname aan AfriForum en AfriForum Jeug se veldtogte, wat daarop gemik is om plaasmoorde teen te werk,” sê Calitz.

AfriForum Jeug het tot dusver verskeie slagoffers van plaasaanvalle besoek, kruise by die Witkruismonument aangebring, gehelp met restourasiewerk aan die monument, en het saam met AfriForum 1 445 kranse by die polisie se hoofkantoor in Pretoria vir die slagoffers van plaasmoorde gelê.

AfriForum Jeug Kovsies gaan ook tydens die geleentheid beplanning doen om bewusmaking oor plaasmoorde onder studente verder te voer en ’n kanaal te skep waardeur studente by veiligheidstrukture kan inskakel.

War of the Flea is vervaardig deur Rian van der Walt en vertel aan die hand van statistieke, onderhoude en foto’s hoe boere in Suid-Afrika wreed vermoor word. In die dokumentêr word onderhoude ook gevoer met politieke navorsers en misdaadkenners, terwyl ondersoek ingestel word na die redes vir plaasmoorde. War of the Flea is beskikbaar by www.waroftheflea.co.za.

· Rian van der Walt se kontakbesonderhede is op aanvraag beskikbaar.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit