2012 07 13 – AfriForum moedig publiek aan om gemeenskapsveiligheidsnetwerke te bou

AfriForum logo 2012 - kleur finaal

AfriForum gaan ʼn veldtog van stapel stuur om persone, wat in landelike gebiede woon, aan te moedig om by plaaslike gemeenskapsveiligheidsnetwerke in te skakel of sulke strukture te bou, indien dit nog nie bestaan nie. AfriForum het reeds begin om ʼn handleiding vir die stigting en doeltreffende funksionering van gemeenskapsveiligheidsnetwerke op te stel.

Hierdie inisiatiewe vorm deel van AfriForum en die Solidariteit Beweging se veldtog om plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar en om spesialiseenhede vir landelike veiligheid te skep. Volgens beplanning sal dit in Augustus aangekondig word.

Dít kom nadat ʼn boer van Letsitele in Limpopo, Lappies Labuschagne, vroeër vandag op sy plaas aangeval is. Luidens mediaberigte het Labuschagne verskeie skietwonde opgedoen en word hy vandag geopereer. Vroeër hierdie week het ʼn boer van Tzaneen afgekom op die lyk van ʼn plaaswerker wat doodgeskiet is.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat gemeenskapsveiligheidsnetwerke ʼn kardinale rol met betrekking tot landelike veiligheid kan speel. “Navorsing deur AfriForum se ondersoekeenheid bevestig dat gemeenskappe waar funksionerende veiligheidsnetwerke bestaan aansienlik minder plaasaanvalle ervaar.” Roets het bygevoeg dat hulle steeds die publiek wil aanmoedig om alle misdaad by die polisie aan te meld, maar dat mense proaktief verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid moet neem.

AfriForum is ook tans besig om, met die hulp van ʼn aantal kundiges, ʼn omvattende verslag oor plaasaanvalle in Suid-Afrika saam te stel. Dié verslag sal aan die minister van polisie oorhandig word.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit