Die onlangse moord op Frans Modisa, ’n 52-jarige plaaswerker van Ventersdorp, is nog ’n rede waarom plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar moet word. AfriForum het hierdie standpunt gehuldig en ’n beroep op die staatspresident en die minister van polisie gedoen om plaasmoorde te prioritiseer net soos wat renosterstropery tans geprioritiseer word.
AfriForum het die moord op Modisa betreur en hom aangesluit by president Jacob Zuma se kommentaar aan die dagblad Volksblad dat dit nie net wit boere is wat op plase vermoor word nie.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het egter bygevoeg dat president Zuma se opmerking dat plaasmoorde nie geprioritiseer moet word nie omdat dit deel van die breër moordstatistiek is, nie gewig dra nie. “Die realiteit is dat geweld en moorde in landelike gebiede buite verhouding tot geweld en moorde in die res van die land is, dat plaasmoorde dikwels met onmenslike gewelddadigheid gepaardgaan en dat boere ’n kardinale rol met betrekking tot werkskepping en voedselsekuriteit speel. As president Zuma se argument oor plaasmoorde konsekwent toegepas word, dan moet renosterstropery bloot as nog ’n vorm van stropery behandel word en geweld teen vroue en kinders nie as ’n prioriteit uitgesonder word nie,” het Roets gesê.
Roets het bygevoeg dat AfriForum Modisa se moord sal voeg by sy lys van plaasaanvalle wat sedert 1990 in Suid-Afrika plaasgevind het en dat dit as ’n verdere motivering gebruik sal word waarom plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar en spesialiseenhede vir landelike veiligheid ingestel moet word. Kraal Uitgewers het ook bevestig dat Modisa se moord in die volgende uitgawe van die boek Treurgrond, wat in Augustus verskyn, opgeteken sal wees.
· AfriForum moedig alle Suid-Afrikaners wat direk deur plaasaanvalle geraak is, om hulle storie in Treurgrond te laat dokumenteer. Hulle kan die webwerf, www.treurgrond.co.za, besoek om die aanlyn-inligtingsvorm in te vul, die woord “Plaas” na 34388 SMS, ’n e-pos na treurgrond@solidariteit.co.za stuur, of Kraal-Uitgewers by 012 644 4329 skakel.













