2012 07 05 – AfriForum monitor stappe teen Mafube-munisipaliteit

Water

AfriForum het tydens sy proses om kriminele klagte teen die Mafube-munisipaliteit te lê ontdek dat daar reeds ʼn reeks klagtes teen dié munisipaliteit ingedien is.

Volgens Pieter van der Westhuizen, die voorsitter van AfriForum se Frankfort-tak, oorweeg AfriForum om kriminele klagtes teen dié munisipaliteit te lê. “Die gemeenskap se gesondheid word bedreig deur ʼn munisipaliteit wat nie na sy mense kan kyk nie. Daar word steeds riool in ons waterbronne gestort, maar die munisipaliteit reageer nie en dit is ʼn kriminele oortreding.”

“Daar is na bewering vier beeste wat moontlik gevrek het weens rioolstorting nadat hulle van die besmette water gedrink het. Die departement van waterwese is na bewering gemobiliseer om die saak op te volg. Vier ondersoekbeamptes is genader om hierdie saak aan te spreek. Die departement het gevolglik gesê dat daar vandeesweek teen die munisipaliteit opgetree sal word”, sê Van der Westhuizen.

AfriForum gaan die gesondheidsinspekteur, wat na bewering die saak ondersoek het, se verslag probeer bekom.

“Volgens die Blou Skerpioene is die departement deeglik bewus van die Mafube-munisipaliteit se geskiedenis oor die hantering van die kwessie van rioolstorting in die gebied,” sê Van der Westhuizen.

Na ʼn versoek van AfriForum, in ʼn brief gedateer 18 Junie 2012, het die Mafube-munisipaliteit versuim om ʼn aksieplan, om die rioolstortingsprobleme in die omgewing aan te spreek, te voorsien teen die sperdatum van 21 Junie 2012.

AfriForum sal aanhou om die situasie dop te hou.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit