2012 07 02 – AfriForum vestig tak in Bloemfontein

clip_image002

Die burgerregte organisasie, AfriForum, gaan Donderdag, 12 Julie 2012 ʼn plaaslike tak stig in Bloemfontein, die hoofstad van die Vrystaat. Dit kom nadat AfriForum die afgelope maand gesprekke gevoer het met verskeie sakemanne, invloedryke mense en rolspelers in die roos-stad. 

Meeste van dié gesprekke het gehandel oor swak dienslewering, misdaad en naamsveranderingskwessies sowel as die munisipaliteit wat versuim om na die gemeenskap se belange om te sien.

ʼn Plaaslike AfriForum-struktuur in die stad sal die gemeenskap toegang gee tot dié organisasie se regsverteenwoordigers en spesialiste op die gebied van plaaslike regeringsake.

“Die nuwe AfriForum-tak in Bloemfontein gaan vir dié gemeenskap ’n platform bied om hulle stem te laat hoor en só te verseker dat hulle burgerregte beskerm word,” sê Wesley Martin, AfriForum se organiseerder in die Vrystaat.

“Kwessies waarop die tak gaan fokus, sluit plaaslike regering, gemeenskapsveiligheid en omgewingsake in. AfriForum kan nie alleen gelyktydig in elke dorp wees om te verseker dat daar nie inbreuk op mense se regte gemaak word nie. Die enigste oplossing is om ons lede deur takke te bemagtig en op te lei om daadwerklike verandering in hul dorpe en stede aan te bring. AfriForum-takke skep vir gemeenskapsleiers die geleentheid om plaaslike regerings op hulle tone te hou,” sê Martin.

AfriForum doen ʼn beroep op die gemeenskap om die geleentheid by te woon en met AfriForum hande te vat om saam ʼn daadwerklike verskil te maak en ʼn roosryke toekoms vir die Bloemfonteinse gemeenskap te verseker.

Die besonderhede van die takstigting in Bloemfontein is soos volg:

Datum:           12 Julie 2012

Plek:               Oranje Meisieskool

Tyd:                18:30

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit