AfriForum het met teleurstelling kennis geneem van die parlementêre portefeuljekomitee van Kuns en Kultuur se besluit om die weergawe van die konsep Talewet wat aan nasionale staatsdepartemente en nasionale entiteite voorskryf om voortaan drie tale te gebruik, waarvan twee sogenaamde voorheen gemarginaliseerde tale moet wees, so te aanvaar vir voorlegging aan die parlement. Dit beteken dat die derde verpligte gebruikstaal Engels of Afrikaans sal wees, maar nie beide nie. Aangesien die staat reeds tot so ʼn groot mate verengels het, is die kans dat Afrikaans bo Engels gekies sal word, gering. Daar is wel ʼn opsie om meer tale te gebruik, maar dit is nie afdwingbaar nie en met koste-oorwegings in gedagte, is dit onwaarskynlik dat meer gekies sal word.
Sedert die voorstel aan die begin van Februarie bekend geraak het, het AfriForum en ander instelling sterk standpunt teen die verskraling van Afrikaans se regte ingeneem. Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die besluit ongrondwetlik en kan dit op verskeie regsgronde teengestaan word, sou die wet so aanvaar word. Daar is ook verskeie ander kwessies wat betwis kan word, byvoorbeeld wat die gelyke behandeling van tale wat die Grondwet en konsepwet voorhou, presies behels, en wanneer ʼn taal as ʼn “voorheen gemarginaliseerde taal” gedefinieer moet word. “Met hierdie ondeurdagte besluit het die portefeulje komitee die staat potensieel aan onnodige regsaksies blootgestel,” het Bailey gesê. “Tevore is Afrikaans en die ander nege inheemse Suid-Afrikaanse tale benadeel deur die staat se verwaarlosing, maar nou is die handskoene blykbaar af en word Afrikaans spesifiek uitgesonder en geteiken.”
Indien Afrikaans nog verder as gebruikstaal in die staatsdiens afgeskaal sou word, hou dit ingrypende gevolge vir die taal en haar sprekers in. Die status van Afrikaans as hoë funksie taal is in gedrang, omdat dit in openbare gebruik moet bly om die status te behou en as onderrigtaal in aanvraag te wees.
“Die ontkenning van Afrikaans is ʼn skending van die menseregte van alle Afrikaanssprekendes. Ons taal is onlosmaakbaar deel van ons identiteit en deur die taal te ontken en van haar regte te ontneem, word haar sprekers se regte insgelyks vertrap. AfriForum sal dit nie aanvaar nie en sal die saak nasionaal en internasionaal op alle moontlike vlakke beveg,” het Bailey bygevoeg. “AfriForum is gereed vir regsaksie as hierdie weergawe van die wetsontwerp aanvaar sou word.”












