AfriForum Jeug het die studenteparlementsverkiesing by die Universiteit van Pretoria (UP) met ʼn rekordgetal stemme gewen en boonop dubbel die aantal stemme as die ANC-geaffilieerde organisasie, Sasco, verwerf. Die uitslae is vandag, meer as vyf maande na die verkiesing, deur die UP bekend gemaak nadat die Noord-Gauteng hooggeregshof Vrydag ʼn hofbevel uitgereik het wat die UP se besluit om ʼn herverkiesing te hou, tersyde stel.
AfriForum Jeug het meer as 42% van die totale getal van 7 148 stemme wat uitgebring is, gekry. AfriForum Jeug se stempersentasie het die afgelope drie jaar konstant toegeneem en dit was slegs die tweede keer dat die organisasie aan die studenteparlementsverkiesing deelgeneem het. AfriForum Jeug het ook die 2010-verkiesing met 1 762 stemme gewen en ʼn volstrekte meerderheid op die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) behaal.
“AfriForum Jeug se steun het byna verdubbel en dié organisasie dien as voorbeeld van ʼn suksesvolle kweekskool van jong leierskap,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.
Die uitslae van die mees prominente organisasies in die proporsionele kiesstelsel was soos volg:
1. AfriForum Jeug: 2 925
2. Sasco: 1 497
3. Daso: 998
4. Cope: 554
“AfriForum Jeug het nie net daarin geslaag om aan studente hulle stem terug te gee nie, maar het ook ʼn reuse-oorwinning vir Afrikaans, die handhawing van studente se regte en die beskerming van gesonde studentetradisies behaal.
“Ons glo dat die steun wat AfriForum Jeug geniet, toegeskryf kan word aan die positiewe wyse waarop studente met AfriForum Jeug kan assosieer as ʼn tuiste vir kritiese denke en sterk Christelike waardes,” volgens Oberholzer.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het AfriForum Jeug en die organisasie se UP-tak met die verkiesingsoorwinning geluk gewens. “Die oorweldigende steun wat AfriForum van jongmense ontvang het, bevestig dat die nuwe geslag jongmense bereid is om met selfvertroue standpunt in te neem vir dit waarin hulle glo. Dít voorspel ʼn blink toekoms,” het Kriel gesê.
Ingevolge die hofbevel moet ʼn nuutverkose VSR voor 2 Maart 2012 gekonstitueer word. Dié konstituering sal deur middel van die eerste sitting van die studenteparlement plaasvind. Die parlement bestaan uit sowat 87 studente uit onder meer drie kiesafdelings, naamlik verenigings, koshuise en fakulteite.












