AfriForum het vandag ʼn vyfpuntplan vir die publiek se deelname aan sy veldtog teen die eensydige voorvertelling van die geskiedenis bekendgestel. Die vyfpuntplan is grootliks daarop gerig om die veldtog op sosialemedia-netwerke te dryf.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het beklemtoon dat die veldtog doelbewus opgestel is om deur middel van sosiale media gevoer te word. Daarom word die publiek nie gevra om op 28 Februarie fisies saam met AfriForum en die betrokke kunstenaars na die Uniegebou te stap nie, maar wel om deur middel van sosiale media aan die staptog deel te neem deur die nuus en vordering van die staptog op Facebook te deel en op Twitter te hertwiet.
AfriForum se ope brief aan die staatspresident wat in die vorm van ʼn video op dié organisasie se webblad geplaas is, het binne twee dae meer as 20 000 kyke op YouTube ontvang en word aangedui as een van die video’s wat die afgelope week die meeste in Suid-Afrika gekyk is. Die kunstenaars, Steve Hofmeyr, Gerhard Steyn, Adam Tas, Jakkie Louw, Gerrie Pretorius en Charles Smidt van die musiekgroep Beeskraal, verskyn op die video saam met voormalige lede van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), lede van die publiek en verskeie woordvoerders vanuit die burgerlike samelewing.
Die vyfpuntplan wat die publiek ter ondersteuning van die veldtog kan uitvoer, is soos volg:
1. Kyk die “Ons was daar”-video op AfriForum se webblad of YouTube en moedig jou vriende aan om dit ook te doen.
2. Registreer jou betrokkenheid by die veldtog by www.afriforum.co.za/onswasdaar.
3. Sluit aan by AfriForum of enige van die kunstenaars in die video se Facebook- of Twitter-rekeninge en bly op hoogte van die veldtog se vordering.
4. Koop die boek, Ons was daar, en vertel vir minstens twee persone die ware weergawe van die geskiedenis van die Grensoorlog.
5. Neem op 28 Februarie deur middel van sosiale media aan die staptog na die Uniegebou deel deur die opdaterings wat AfriForum en/of die deelnemende kunstenaars op Facebook en Twitter maak, te deel en te hertwiet.
Roets het bygevoeg dat na raming 300 000 mense deur middel van sosiale media aan die staptog gaan deelneem.













