Die Noord Gautengse hooggeregshof het die Universiteit van Pretoria (UP) se besluit om ’n herverkiesing vir dié universiteit se studenteparlement uit te roep, vandag ongeldig verklaar en beslis dat UP ook AfriForum Jeug se koste vir hierdie aansoek moet dek. Die hof het verder beslis dat die uitslae van die studenteparlementsverkiesing wat op 8 September 2011 gehou is, nou bekend gemaak moet word en dat ʼn nuwe studenteraad binne 14 dae in terme van hierdie uitslae gekonstitueer moet word.
AfriForum Jeug het die hofaansoek gebring nadat UP besluit het om die verkiesing ongeldig te verklaar en sy eie studenteraad aan te stel. Die uitspraak berus onder meer daarop dat die universiteit op onregmatige wyse by die proses ingemeng het, nadat die ANC-geaffilieerde studente-organisasie SASCO ’n dreigbrief aan die universiteit gestuur het om nie die uitslae bekend te maak nie.
Nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Charl Oberholzer, het die uitspraak verwelkom en dit as ’n oorwinning vir studente beskryf. “AfriForum Jeug het sy doel bereik om studente se stem terug te besorg. Dit het nou tyd geword vir UP en alle studente-organisasies om saam te kom en te sorg dat hierdie uitspraak positief aangewend word deur so vinnig as moontlik ’n legitieme studenteparlement, soos wat deur die studente verkies is, te konstitueer.”
Regter Rabie het sy bevel vandag aan die hof voorgelees en die uitspraak aan die partye beskikbaar gestel. AfriForum Jeug sal die uitspraak bestudeer.
“Hierdie is ’n bewys dat studente wel sukses kan behaal en hulle universiteit ’n beter plek kan maak, wanneer hulle vir hulle regte opstaan en daarin volhard,” het Oberholzer gesê.












