Die burgerregte-organisasie AfriForum het in die laaste jaar bykans 50 takke landwyd gestig en gemeenskappe só in staat gestel om swak dienslewering, korrupsie en ander wandade waaraan munisipaliteite hul skuldig maak, teen te staan.
AfriForum het nou organiseerders aangestel vir Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Vrystaat. Daar kom steeds meer navrae in van gemeenskappe wat hul eie takke wil stig in hierdie provinsies.
“AfriForum alleen kan nie gelyktydig in elke dorp wees om te verseker dat daar nie inbreuk op mense se regte gemaak word nie. Die enigste oplossing is om ons lede te bemagtig en op te lei om in hul dorpe en stede betrokke te raak,” sê Ivan Herselman, AfriForum se organiseerder vir Mpumalanga en KwaZulu-Natal.
AfriForum se plaaslike strukture kan op AfriForum steun vir regshulp en kry ook onder meer bystand met opleiding, administratiewe sake en kommunikasie.
“Individue het steeds die keuse of hulle slegs op nasionale vlak ʼn bydrae wil lewer en of hulle op ʼn plaaslike vlak self hul regte gaan beskerm. AfriForum skep die struktuur vir beide en gee aan gemeenskapsleiers die geleentheid om hul plaaslike regering op hul tone te hou,” sê Herselman.
Om meer inligting oor die stigting van takke in Mpumalanga en KwaZulu-Natal te kry, kontak vir Ivan Herselman by 072 538 8458 of besoek www.afriforum.co.za.












