AfriForum het Woensdag die Portefeuljekomitee op water- en omgewingsake in die Parlement toegespreek om die voorgestelde wysigingswetsontwerp van 2011 op die Suid-Afrikaanse Weerdiens teen te staan.
Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, staan die burgerregteorganisasie die wetsontwerp om verskillende redes teen, onder meer omdat dit die veiligheid van Suid-Afrikaners bedreig. ‘Suid-Afrikaners moet saamstaan en mekaar se veiligheid beskerm deur diegene wat deur ʼn omgewingsramp bedreig word, in te lig en te help. Die Hoedspruit-oorstromings is ʼn goeie voorbeeld waar die publiek en die media voor die Weerdiens opgetree het,’ sê Kleynhans,
AfriForum staan die wetsontwerp ook teen weens die ongeregverdigde skending van Suid-Afrikaners se reg van toegang tot inligting. ‘In ʼn demokratiese samelewing het almal die reg om noodsaaklike inligting te ontvang,’ sê Kleynhans.
Die Portefeuljekomitee het saamgestem met die voorstelle wat AfriForum en verskillende organisasies voorgelê het en die wetsontwerp sal daarvolgens herskryf word. ‘Dit lyk asof die voorgestelde wet kriminele dade of die onwettige, doelbewuste en nalatige voorsiening van valse of misleidende inligting wil ondervang, en dít ondersteun AfriForum,’ sê Kleynhans.
Die lede van die Portefeuljekomitee het ook met AfriForum saamgestem dat dit noodsaaklik is dat ander organisasies en professionele lui voortgaan met verklikkerdienste en inligting aan die publiek om katastrofes te voorkom.
Die versekering is gegee dat die wetsontwerp nie lewensvatbare besighede in die weerdiensbedryf sal raak nie en dat die Weerdiens nie ʼn monopolie sal hê nie. ‘Dit maak voorsiening vir meer akkurate inligting om die lewens van burgers te bereël,’ sê Kleynhans.
‘Die gewysigde artikel oor luggehalte hoort nie in die wetsontwerp nie en daar is ooreengekom dat dit verwyder sal word,’ sê Kleynhans.
AfriForum sal die eindresultaat moniteer en verdere kommentaar voorlê wanneer die Portefeuljekomitee se konsepverslag verskyn.












