AfriForum het sy kommentaar op die groenskrif oor landelike ontwikkeling en grondhervorming vandag ingedien. Volgens AfriForum se woordvoerder oor ekonomiese sake, Cornelius Jansen van Rensburg, het die groenskrif die potensiaal om die grondwetlike vordering van 1994 tot niet te maak en gevolglik ekonomiese welvaart, asook maatskaplike en politieke stabiliteit in Suider-Afrika te ondermyn.
In sy voorlegging voer AfriForum aan dat die groenskrif poog om die grondvraagstuk met een enkele stap op te los. Hierdie stap is gebaseer op verskeie verkeerde aannames, bewerings en onuitvoerbare prosesse.
“Die groenskrif is gebaseer op die regering se aanname dat die prinsiep van gewillige koper en gewillige verkoper nie haalbaar is nie, en dit lê die blaam hiervoor voor die deur van die boere. Dit is ʼn wanopvatting wat die staat se burokratiese mislukkings en korrupsie geheel en al buite rekening laat,” het Jansen van Rensburg gesê.
Hoewel die dokument as geheel deur AfriForum verwerp word, is spesifieke kwessies wat in die besonder kommer wek en verwerp word:
· Die streng beperkings wat die groenskrif op privaat eienaarskap plaas, asook dat
· Die staat die reg sal hê om die waarde van grond te bepaal;
· Die staat die reg sal hê om titelaktes ongeldig te verklaar en beslag op grond te lê;
· Die staat die reg sal hê om aktief in te meng wat die benutting van grond betref.
Hierdie is enkele van die voorgestelde stappe wat ondemokratiese en tirannieke magte aan die staat sal gee, wat dit sal bemagtig om buite die domein van die Grondwet op te tree.
Die regering het nie die morele reg om te kan poog om die regte van sy burgers te beperk, ondermyn of vervreem nie. Indien hierdie dokument so aanvaar word, het dit die potensiaal om onherstelbare skade aan Suid-Afrika en die land se mense aan te rig. Indien hierdie voorstelle tot regeringsbeleid verhef word, sal ons nie net politieke, ekonomiese en maatskaplike ellende in die gesig staar nie, maar sal die ideaal van ʼn vooruitstrewende demokrasie verwoes word.
AfriForum is nie gekant teen rasionele pogings om die grondeienaarskap van individue en gemeenskappe uit te brei nie. Ten einde ekonomiese welvaart te verseker, is dit juis noodsaaklik dat grondeienaarskap meer toeganklik vir alle burgers gemaak moet word. “Die groenskrif getuig van ʼn teenoorgestelde houding,” het Jansen van Rensburg gesê.
AfriForum bevraagteken die grondwetlikheid van die voorgestelde groenskrif en sal alle moontlike kanale benut om die aanvaarding daarvan teen te staan.
(Sluitingsdatum van voorleggings oor die groenskrif: 30 Desember 2011)













