AfriForum het die nuus verwelkom dat die omstrede lied, “Skiet die Boer”, vandag tot haatspraak verklaar is.
“AfriForum is verheug oor die uitspraak. Dit stuur ‘n duidelike boodskap aan Malema uit dat hy nie verhewe bo die reg is nie en dat hy nie kan maak soos hy wil en polarisasie saai soos hy wil nie,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.
Regter Colin Lamont het in sy uitspraak gesê die lied ondermyn menseregte en is skadelik en diskriminerend. Hy het bevind geen regverdiging bestaan om die lied te sing nie.
Teen die tyd dat Malema Zimbabwe besoek het in April 2010, het daar duidelike polarisasie in Suid-Afrika ontstaan, het Lamont gesê. Hy het bygevoeg hierdie polarisasie bestaan vandag nog.
Lamont het voorts beveel dat Malema regskostes moet betaal.
“Die betekenis van die woorde maak so ‘n groot inbreuk op die teikengroep, naamlik wit Afrikaners, se menseregte dat dit die kostes wat Malema moet betaal, regverdig. Die lied sal nooit weer as skadeloos gesien word nie.”
Volgens Kriel is die uitspraak baie meer as ‘n oorwinning van AfriForum oor Malema.
“Dit is ‘n oorwinningsbeginsel van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe oor die kultuur van disrespek en polarisasie wat deur Malema gepropageer word.
“Sou Malema appelleer, is AfriForum se regspan gereed om die stryd verder te voer. Ons het nou reeds twee hofsake teen Malema gewen en ons is gereed om dit weer te doen. ”












